Johannes

Jesus Christus het die dood oorwin en bring troos

Johannes 11

“1 En daar was ‘n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. 2 En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was. 3 Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek. 4 En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. 5 En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. 6 En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was. 7 Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan. 8 Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe? 9 Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10 Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie. 11 Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. 12 Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. 13 Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek. 14 En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood. 15 En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan. 16 En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe. 17 Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was. 18 En Betánië was naby Jerusalem, omtrent twee myl daarvandaan. 19 En baie van die Jode het al by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos. 20 En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit. 21 En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. 22 Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee. 23 Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan. 24 Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag. 25 Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? 27 Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom. 28 En nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep Maria, haar suster, stilletjies en sê: Die Meester is hier en Hy roep jou. 29 Sy het, toe sy dit hoor, vinnig opgestaan en na Hom toe gegaan. 30 En Jesus het nog nie in die dorp gekom nie, maar was op die plek waar Martha Hom tegemoetgegaan het. 31 En toe die Jode wat by haar in die huis was en haar getroos het, sien dat Maria vinnig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg en gesê: Sy gaan na die graf om daar te ween. 32 En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. 33 Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel 34 en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. 35 Jesus het geween. 36 Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het! 37 En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie? 38 En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was ‘n spelonk, en ‘n steen het daarteen gelê. 39 Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood. 40 Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? 41 Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; 42 en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. 43 En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! 44 En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ‘n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.”

Preek notas

Teks: Johannes 11 

Tema: Jesus Christus het die dood oorwin en bring troos 

Inleiding: 

Paulus Skryf in 1 Thessalonicense 4:13-18 dat ons mekaar moet bemoedig met die realiteit dat die opstanding en wederkoms ʼn werklikheid is. 

Vir Paulus staan of val die hoop van die Christelike geloof by die werklikheid van die opstanding en wederkoms. 1 Korinthiërs 15:14-20. 

Die boek Johannes is dan ook ingedeel op ʼn manier wat wys wat vir Johannes van primêre belang was. En dis wat ons vanoggend gaan troos! 

Hfs. 1-11 handel oor Jesus se aardes bediening, met die opwekking van Lasarus as die hoogtepunt. 

Hfs. 12-21 handel dan oor die laaste week van Jesus se lewe tot op die kruisiging in Hfs.19, met Hfs.20-21 as die hoogtepunt met die opstanding van Jesus. 

Dis duidelik dat albei dele eindig met die realiteit van die opstanding! 

Dit wat in Hfs. 11 gedemonstreer word met die opwekking van Lasarus bereik in Hfs.20-21 ʼn hoogtepunt met Christus wat self opstaan en die dood oorwin. 

Nou daar is 3 dinge wat Jesus verklaar wanneer Hy Lasarus opwek, wat belangrik is uit die teks vir ons wat vandag by ʼn begrafnis is.  

Indeling: 

  1. Jesus wys dat Hy die Seun van God is. 
  2. Jesus wys dat Hy die opstanding en die lewe is. 
  3. Jesus wys dat Hy ʼn spesiale diepgewortelde liefde het vir sy vriende. 

Kyk na punt I saam met my. 

  1. Jesus wys dat Hy die Seun van God is. 

Dit wat in Hfs. 11 afspeel volg ʼn patroon wat die boek Johannes voor bekend is: 

  • Jesus maak ʼn aanname oor iets, en dan gee Johannes een of ander wonderwerk van Jesus wat hierdie aanname bevestig.   
  • Bv. Hy verklaar dat Hy die lig van die wêreld is, en net daarna maak Hy ʼn blinde man gesond. 

Voor Lasarus se opwekking, wat dien as die bewys dat Jesus se aanname waar is, het Jesus verklaar dat Hy die Seun van God is. Die Fariseërs wou Hom toe stenig daaroor, want hulle het gesê Hy stel homself gelyk aan God. 

Wat presies is wat Jesus natuurlik gedoen het! 

Dan wek Hy vir Lasarus op en stop so hulle monde toe.  

  • Hy is God en Lasarus se opwekking wys dit! 

Hulle kan niks sê nie, want Sy werke bevestig wat Hy verklaar het. Psalm 82 is wat Jesus in Johannes 10:37-38 aanhaal. 

Die opwekking van Lasarus dien as ʼn vaste bewys dat Jesus, die Seun van God, self God is.  

Dit behoort deel van ons troos te wees vanoggend. Die Seun van God is die Een wat mag het oor lewe en dood! Niemand anders nie! 

Kyk na Punt II 

2. Jesus wys dat Hy die opstanding en die lewe is. 

Jesus word geroep deur Martha en Maria om te kom, want hulle broer Lasarus is siek.  

Let net op, die realiteit van siekte, dood en lyding in hierdie lewe het ingekom deur die sondeval, maar die realiteit van die lewe na hierdie dood het ingekom deur Jesus. 

So, Jesus word geroep en dan sien ons in V.23 (lees) hoe Hy hulle troos as Hy by hulle kom. 

Hy troos haar met die opstanding.  

  • Nou die Jode het geglo in die opstanding, maar Jesus gaan hulle ʼn les hier leer wat ons nie moet mis nie. 

In V.24 sien ons dat Martha geloof het en glo in die opstanding.  

In V.25 leer Jesus haar dan dat Hy die opstanding en die lewe is.  

V.25 gaan verder en roep haar dan op tot geloof in Jesus Christus alleen vir hoop in en na hierdie lewe. 

Let op 3 dinge: 

  1. Die wat glo, sal deel het aan die opstanding en die lewe. 
  2. Hulle wat glo in Jesus en sterf, gaan voort om te lewe. 2 Kor. 5:8 
  3. Die wat gesterf het in Christus, die dag toe Hy hulle gered het, sterf nooit weer nie. Johannes 5:24 

Die vraag vir Martha en ons vandag is: V.26b- Glo jy dit? 

Hierdie vraag is die punt van die hele les met die opwekking van Lasarus.  

  • Dis die belangrikste vraag wat enige persoon homself kan vra. Dis ʼn lewe en dood bepalende vraag! 
  • Jy kan nie bekostig om hierdie antwoord verkeer te hê nie. 

V.27 behoort te dien as die model reaksie op hierdie vraag.  

  • Martha se antwoord is die model antwoord en in Johannes 20:30-31 is dit die doel van die boek. —- Om ons te lei tot geloof in Jesus Christus. 

Nou hoe kan Jesus hierdie krag hê om mense op te wek uit die dood?  

2 Redes: 

  1. Oor wie Hy is. 
  2. Oor wat Hy gedoen het. 

Lasarus is ʼn demonstrasie hiervan. 

Kyk na Punt III 

3. Jesus wys dat Hy ʼn spesiale diepgewortelde liefde het vir sy vriende. 

Let op daar is ʼn spanning in die teks! 

Twee realiteite lig dit uit. 

  1. Jesus wat baie lief vir Maria, Martha en Lasarus. Dit word heeltyd herhaal. V.3, 5 
  2. Jesus tree vreemd op as iemand wat bely dat Hy hulle lief het.  

V.6 vertel dat Hy vir twee dae opsetlik versuim om na hulle te kom. Hy stel sy koms met 2 dae uit.  Daar is ʼn spanning tussen Jesus se belydenis en Sy afwesigheid in hierdie tyd van nood. 

  • Ons ervaring vandag en deur die lewe laat ons ook met die vraag hoekom? En die antwoord is onbevredigend vir die ongelowige, maar bemoedigend vir die gelowige. 

Hy bly weg, Hy versuim Sy koms, Hy is vir ʼn kort tydjies oë aanskoulik afwesig, vir Sy eie glorie en ons uiteindelike beswil. 

Dis wat Jesus in V.4 verklaar en ook in V.40- Hy bly weg vir Sy eie glorie. 

Hulle geloof en gehoorsaamheid het God verheerlik in ʼn besonderse wyse. 

  • Het hulle vra gehad? JA 
  • Het hulle hartseer en pyn beleef? JA 

MAAR hulle het steeds geglo en in tyd het Jesus Lasarus opgewek. Dis ʼn baie belangrike les! 

  • Die ongelowige hoor dit alles en sê, so Here kan ek nie volg nie. 
  • Die gelowiges hoor dit alles en sê, wat ʼn voorreg om gebruik te word deur my Here tot Sy verheerliking. 

Rom. 8:28; Jakobus 1:2-4; 1 Petrus 1:6-7; Johannes 11:15 Dis die doel- Geloof. 

Dis duidelik dat Jesus sy vriende liefhet V.32-36, maar dis ook duidelik dat swaarkry binne Sy soewereine mag gebruik word, en tot ons beswil bestuur word. Heb. 4:15-16 Lees… Amen 

About The Author

Ander Boodskappe...