Daniël 9:20-27
“20 Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God, 21 terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer. 22 En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee. 23 By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig. 24 Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. 25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. 26 En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. 27 En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word. “
Preek notas
Teks: Daniël 9:20-27
Tema: N Groot Openbaring
Inleiding:
Het jy al ooit ʼn vraag gevra wat jy gedink het ʼn eenvoudige antwoord moet hê, net om verbaas te wees oor die diepte en kompleksiteit van die antwoord?
Amper soos die “science for dummies” reeks wat in baie kompleksiteit die verbindings tussen atome probeer beskryf op ʼn eenvoudige manier.
Soms voel dele soos Daniël 9 soos hierdie tipe vra. Jy dink jy kan dit eenvoudig hou, maar dit bly kompleks. Dit kan mens laat dink dat dele soos Daniël 9 net nooit verstaanbaar sal wees nie, wat ook nie waar is nie.
Die hele Woord is ingegee en nuttig tot lering…. 2 Tim. 3:16
- Daniël ontvang hierdie visioen om iets te openbaar, nie om iets te verberg nie! Dis gegee om insig vir Daniël te gee volgens V.22
- Ons moet eerste fokus op wat duidelik en sentraal is, nie op al die uitdagings en komplekse dele nie. As ons dit doen sal die sentrale boodskap verstaanbaar wees.
NOU.
Die 70 weke van Daniël is by uitsondering die moeilikste deel in die hele boek. Daaroor is konsensus tussen predikers en kommentare.
- Om ʼn standpunt hieroor in te neem wat in sement gegiet is sal baie dwaas en hoogmoedig wees.
Selfs ons belydenis maak onderskeid tussen maklike en moeilike dele in die Bybel.
- Hfs.1 oor die Skrif Paragraaf 7: Die inhoud van die Skrif is nie ewe eenvoudig in sigself nie, en ook nie ewe duidelik vir elkeen nie; (2 Pet 3:16) en tog word die dinge wat noodwendig geken, geglo en nagekom moet word vir saligheid, so duidelik uiteengesit en geopenbaar in een of ander deel van die Skrif, dat nie slegs die geleerdes nie, maar ook die ongeleerde, ʼn voldoende begrip daarvan kan bekom, deur die gewone gebruik van die middele daartoe verleen. (Ps. 19:8; 119:130).
So kom ons leer sommer by die begin ʼn les in nederigheid oor hierdie tipe van tekste.
Dit gebeur te veel dat onduidelike dele in die Skrif gebruik word om hele leerstellings op te bou, sonder om te erken dat die eksegese en geskiedenis van hierdie tekste nie slegs een interpretasie tot gevolg kan hê, of gehad het nie.
So ons gaan dit baie eenvoudig probeer hou.
Ons kan V.20-27 opdeel in twee dele:
- V.20-23
- V.24-27
Ons moet onsself net herinner wat die sentrale las van Daniël se gebed was in V.1-19, want dis die konteks waarbinne hierdie visioen aan hom gegee word.
Onthou julle, Daniël was besig met die profeet Jeremia se voorspelling van 70 jaar ballingskap en dan ʼn beloofde terugkeer. Na 70 jaar sou Babel val, die volk sou terugkeer na Jerusalem en die tempel sou herbou word.
En nou in die eerste jaar van Darius se regering, na die val van Babilon sou Daniël erken het dat dit die begin van die vervulling van die eerste deel van die profesie van Jeremia was. En dan bid Daniël dat die tweede deel ook in vervulling moet gaan.
Daniël sou erken het dat Babilon geoordeel was, maar ook dat die Here die sondes van die volk en die ontheiliging van sy tempel gestraf het. Net soos God belowe het Hy sou doen as hulle ongehoorsaam was deur Moses.
Maar God het in Deut. 30:1-6 ook belowe dat Hy ʼn oorblyfsel sal laat oorbly wat ʼn hernude gehoorsaamheid en besnyde harte sou ontvang wat weer na God sou soek.
Daniël sou aanhou lees het en by Jeremia 31:31-33 gekom het (lees).
- En dis vir die vervulling van al hierdie beloftes wat hy voor gebid het.
Onthou net, ons moet die agtergrond waarteen Daniël afspeel verstaan, anders gaan ons nie die beelde en profesie verstaan nie.
En hierdie hoop van Jeremia 29-33 is die agtergrond. In hierdie konteks maak elke element van die profesie sin.
Dis asof die verskyning van Gabriel ʼn onmiddellike skadu vervulling, ʼn waarborg was van dit waarvoor Daniël gesmeek het.
- In V.18-19 bid Daniël dat die Here moet hoor, en in V.20-21 verskyn Gabriel wat as bewys dien dat die Here gehoor het.
- In V.17 soek Daniël die Here se guns (sy aangesig wat skyn), en in V.23 word Daniël aangespreek as een wat geliefd is deur God, guns in God se oë het, een is oor wie se aangesig die Here skyn.
- In V.19 bid Daniël dat die Here nie moet vertoef nie, en in V.20, nog voordat hy klaar gebid het kry hy al ʼn antwoord. In teendeel, in V.23 word Daniël verseker dat toe hy begin bid het, het daar al ʼn woord uitgegaan.
- V.24-27 is in konteks God se woord aan Daniël dat sy gebed vir restourasie van die volk met ʼn JA beantwoord sal word.
Kom ek som dit op:
Daniël bid, en God antwoord deur te sê:
- Daniel, ek hoor jou. V.20-21
- Daniel ek het Gabriel gestuur om jou leer. V.22
- Daniel ek het jou lief. V.23
- Daniel ek gaan jou gebed beantwoord met ʼn JA. V.24-27
Die 70 sewetalle in V.24-27 sou in Daniël se gedagtes nie ʼn nuwe idee gewees het nie.
Kyk saam my na Levitikus 25:1-22 (V.8-10)
N perfekte Jubeljaar word m.a.w. aangekondig in Daniël se gedagtes.
Histories sou hierdie vervulling vind in die herbou van die muur en tempel in Nehemia se tyd.
Maar hier is ʼn belangrike les wat ons moet leer. Bybelse profesie werk soos bergklim.
Jy dink jy sien die top van die berg, net om as jy daar kom te sien daar is nog ʼn hoër top wat jy nie voorheen kon sien nie.
Die herbou van die tempel met Nehemia lyk in Daniël se gedagtes soos die bergtop, die vervulling van die belofte en profesie, maar dan is daar ʼn volgende bergtop, die koms van Christus, die Heilige, die Tempel, die een wat in die muur se Bres sou tree en in ons gedagtes is dit die vervulling, maar dan is daar die wederkoms wat nog moet gebeur wat die finale bergtop sal wees.
Meeste sisteme van eindtyd leer wil hierdie beperk tot een bergtop, en dis waar baie probleme ontstaan.
Nou voor ons verder, wat God doen met hierdie openbaring van, nie 7 sewetalle soos in Lev. 25 nie, maar 70 sewetalle is om Daniël se prentjie (idee) oor God se tydskaal te vergroot.
By die goeie nuus van die einde van die ballingskap wat aan die kom is, is daar slegte nuus ook, en dit is dat die vervulling van Jeremia 29-33 nog nie aangebreek het nie, maar eers nog later sou aanbreek. Nie na 70 jaar nie, maar na 70 sewetalle.
God se tydskaal is groter as wat ons baie maal dink of wil erken.
Die fout wat baie maak is om hierdie getalle letterlik te verstaan.
Asof alles na 490 letterlike jare afgehandel sou wees, terwyl die Bybel duidelik in profetiese boeke getalle simbolies gebruik.
Dis soos in Matt. 18:22 toe Jesus hulle geleer het om nie net 7 maal nie, maar 70 maal 7 te vergewe. Sou dit beteken 490 keer moet ek vergewe, maar 491 keer dan is dit nie meer nodig nie?
Nee, wat God doen is Hy wys vir Petrus dat hulle idee oor vergifnis te klein was en uitgebrei moes word.
Dis wat hier in Daniël ook gebeur. Daniël se tydskaal oor hoe lank dit God sou vat om V.24 se 6 dinge te vervul was te klein en moes vergroot word.
- Hierdie teks daag ons elkeen uit om anders te dink oor God se werking en tydsberekening oor dinge in ons eie en ander se lewens.
Ons lewe in ʼn samelewing waar alles onmiddellik moet wees. 2 min noodles, instant poeding ens. Ons wil tot het dat God dadelik met sonde moet handel in ons lewe en die frustrasie moet wegvat van heiligmaking. Ons verwag dat ons naaste, vrou, man, kinders, familie oornag, in die knip van die oog verander moet word.
Maar God se werk in ons lewe is nie onmiddellik nie, dit vat tyd, dit gebeur binne ʼn baie groter tydskaal as wat ons baie maal bereid is om te erken. Ons dink omdat heiligheid Sy einddoel is met ons, daarom moet dit onmiddellik afgehandel word.
God se meule maal stadig, maar dit maal baie fyn.
- Die tydskaal van God se grote moet ons leer dat ons baie meer geduldig met mekaar moet wees. Die fynmeel moet onthou dat die korrels (korrelkoppe) nog op pad is na die maal, en die korrels moet onthou dat die maal onvermydelik fynmeel produseer.
Dit vat ons hele leeftyd vir God om hierdie verandering te bewerk. Hoe geduldig is Hy nie met ons nie!
Dan is daar natuurlik die afsnyding van die Gesalfde van V.26 wat moeilik is om te verduidelik.
Hier is hoe ek V.25-26 verstaan.
In die eerste sewetalle van V.25, het daar ʼn woord uitgegaan om Jerusalem te herbou, en hierdie sou duur van die uitgang van die Woord tot die afhandeling van die herbou van Jerusalem.
Dit het nie begin in 538VC toe Kores die Jode teruggestuur het nie, maar die woord het al uitgegaan met die begin van Daniël se gebed. Kores se aankondiging was net ʼn ego, ʼn amen, van die hemelse besluit (woord/decree) wat reeds uitgegaan het.
Hierdie onderskeid tussen hemelse en aardse Woorde (decrees) wys net hoe moeilik dit is om ʼn fisiese letterlike tydskaal te probeer afwurg op die teks.
Die eerste 7 sewetalle wys dat God in die nabye toekoms vir Daniël, gou, Jerusalem sal herbou. Die volgende 62 sewetalle dui op die tyd van benoudheid waar Jerusalem nog nie die sekuriteit en beskerming van Jeremia 33:16 sal beleef nie.
Aan die einde van hierdie eerste 7 sewetalle en 62 sewetalle, m.a.w. na 69 sewetalle verby is sal die Gesalfde verskyn en eers dan sal hy die hoogtepunt, die 70ste sewetal inbring, en self dan sal Jeremia 33:16 se vrede en geregtigheid nie ten volle kom nie, maar V.26 se die Gesalfde sal afgesny/uitgeroei word. Wat natuurlik aan die kruis gebeur. Dit wat Jesaja 53 van gepraat het.
Die nagmaal laat ons weer vanoggend daaraan dink. Waar Christus die nuwe verbond aankondig as ʼn realiteit, met die opheffing van die beker en die woorde, dit is die nuwe verbond in my bloed.
Ek dink dis die betekenis van V.27 as hy praat van ʼn sterk verbond.
Die essensie van die boodskap aan Daniël is eenvoudig in my verstaan:
In die swaarkry, deur die hele geskiedenis, te midde van vervolging en vyande van die kinders van God, is die Gesalfde, Christus, die enigste hoop in die duisternis.
Hy is die finale offer, die perfekte lam, die aanvaarbare offer, die waaragtige getuie, die enigste hoop!
Die tempel word in 70 NC verwoes, ek dink dis die verwoester van V.27 wat hiervoor verantwoordelik is, en al was dit die Romeine, Titus om presies te wees, was dit agter Hom die Woord van God wat alle offers tot ʼn einde gebring het, want Christus se offer is genoeg.
Die boodskap aan Daniël sou hom nie skepties af laat kyk het, of angstig rond laat kyk het nie, maar hoopvol op laat kyk het.
En dis die boodskap aan julle. Aanskou die Lam van God wat sterf vir my en jou. Sien die Christus jou verlosser weer raak, en bely sy hoofskap oor jou, en mag dit jou hart warm maak, jou hart vervul met liefde vir Jesus.
Daniël kon uit Jerusalem weggevoer word, maar nie Jerusalem kon jy nie uit Daniël kry nie.

