Joshua

Veilig in Jesus

Josua 20

“1 En die HERE het met Josua gespreek en gesê: 2
Spreek met die kinders van Israel en sê: Wys die
vrystede vir julle aan waarvan Ek deur die diens
van Moses met julle gespreek het, 3 dat hy wat ‘n
doodslag begaan het—wat per ongeluk, sonder
opset, ‘n mens doodgeslaan het, daarheen kan
vlug, sodat dié vir julle kan dien as toevlugsoord
vanweë die bloedwreker. 4 As hy dan na een van
hierdie stede toe vlug en gaan staan by die ingang
van die stadspoort en sy saak voor die ore van die
oudstes van daardie stad meedeel, moet hulle
hom by hulle in die stad opneem en aan hom plek
gee, dat hy by hulle kan woon; 5 en as die
bloedwreker hom agternajaag, mag hulle hom
wat die doodslag begaan het, nie aan hom
uitlewer nie, omdat hy sy naaste sonder opset
doodgeslaan het, sonder dat hy hom gister en
eergister vyandig was; 6 en hy moet in daardie
stad bly totdat hy voor die vergadering
tereggestaan het, tot op die dood van die
hoëpriester wat in dié dae daar sal wees; dan mag
hy wat die doodslag begaan het, weer na sy stad
en sy huis terugkeer, na die stad waar hy vandaan
gevlug het. 7 Daarop het hulle geheilig: Kedes in
Galiléa, op die gebergte van Náftali, en Sigem op
die gebergte van Efraim, en Kirjat-Arba, dit is
Hebron, op die gebergte van Juda; 8 en oorkant
die Jordaan, oos van Jérigo, het hulle afgestaan:
Beser in die woestyn op die gelykveld, uit die
stam van Ruben, en Ramot in Gílead, uit die stam
van Gad, en Golan in Basan uit die stam van
Manasse. 9 Dit is die stede wat bepaal was vir al
die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat
onder hulle vertoef; sodat elkeen wat per ongeluk
‘n mens doodgeslaan het, daarheen sou kan vlug
en nie hoef te sterf deur die hand van die
bloedwreker voordat hy voor die vergadering
gestaan het nie. :

Preek notas

Teks: Numeri 35, Josua 20, Deuteronomium 19:1-13 

Tema: Veilig in Jesus 

Inleiding: 

Die vrystede was deur Moses en Aäron afgesonder onder bevel van God, nadat elke stam hulle  erfdeel reeds ontvang het.  

Ons lees in Josua 20 presies waar hulle geleë was en wat hulle genoem was. 

Die idee van ʼn vrystad was iets wat Israel heeltemal anders gemaak het as die nasies rondom hulle. Dis basies ʼn uitbreiding van die horings van die altaar gewees. (verduidelik). 

In die historiese konteks was dit vreemd, want die idee het nie bestaan in heidense kulture nie. 

Die volk van God was anders, want hulle God was geheel anders.  

Die vrystad was basies ʼn stad waarin iemand veilig was wat per ongeluk ʼn doodslag begaan het. Dit was ʼn m.a.w. plek van veiligheid vir iemand in ʼn tyd van groot nood. 

Nou julle kan seker onthou hoe julle by die huis gebly het tydens ʼn groot deel van Covid, of hoe julle al in die huis ingehardloop het as dit begin hael of reën. Julle het sekerlik al beleef hoe mense na ʼn plek van veiligheid soek as jou lewe in gevaar is. Dis deel van menswees. 

Nou die boodskap vanoggend gaan julle wys waar om te gaan in julle gesoek na veiligheid, betekenis, skuiling en hoop. 

Indeling: 

Daar is 3 dinge om na te kyk: 

  1. Wat was die doel van die vrystede? 
  2. Waar was die vrystede geleë? 
  3.  Wat beteken dit vir ons? 

1. Wat was die doel van die vrystede? 

Josua 20:1-6 veral V.3 som vir ons mooi op wat die doel van die Vrystede was. 

  • Skuiling vir hom wat per ongeluk ʼn doodslag begaan het van die bloed wreker se swaard. 
  • Skuiling tot op ʼn regverdige verhoor. 
  • Skuiling tot op ʼn vasgestelde geleentheid- die dood van die Hoëpriester. 

Dis belangrik om te sien dat God die een is wat hierdie konsep uitgedink en ingestel het. 

Dis alles so uitgewerk dat dit ons na Christus toe wys. Die enigste element wat nie na Christus toe wys nie is die een wat die doodslag begaan het en in nood verkeer. Dit wys na ons. 

Daar moes dan 6 stede afgesonder word uit die 48 stede waarin die Leviete gebly het wat sou dien as vrystede.  

In die afsondering van 6 stede as Vrystede sien ons iets van die karakter van God teenoor hulle wat in nood verkeer. Hy is genadig, barmhartig en groot in Sy standvastige liefde.  

Die naam van die Here is ʼn sterk toring, die regverdige hardloop daarin en vind skuiling/word beskut. Spreuke 18:10 

  • Die vrystede was veronderstel om ʼn prentjie te wees van dit wat Jesus die realiteit is. 
  • Die wat na Jesus toe vlug met hulle oortredings vind skuiling.  
  • Die wat met hulle sonde haastig vlug na die Vrystad vind beskerming en hulp, soveel meer die wat na Jesus toe vlug. 

Die vrystede was nie net vir die Jode beskikbaar nie. V.9 maak dit duidelik. Dit was vir almal wat skuldig was aan bloedvergieting. Ook vir die vreemdeling. 

  • Maar net die wat onskuldig verklaar word kon bly.  
  • Geen geld of goed kon so persoon loskoop nie. Net die dood van die Hoëpriester het gedien as ʼn loskoop van hierdie skuld.  

Kom ons kyk na punt 2 

2. Waar was die vrystede geleë? 

Die ligging en uitleg van die stede is nie per toeval nie.  

Die stede is oor die hele Israel versprei. Ons sien dit in V.7-8 

Daar was 3 aan die Suide kant en 3 aan die Weste kant van die Jordaan. 

Die stede was so gekies dat hulle, maak nie saak waar jy was in Israel nie, een van die stede sou +- 60 km op die verste weg van jou gewees het.  

Dit was gedoen sodat jy binne ʼn dag so Vrystad sou kon bereik, sodat die bloed wreker nie jou kon doodmaak as jy onskuldig was nie. 

Nou onthou die stede is ʼn prentjie van wie Christus is. 

Hierdie stede was almal behalwe een op berge gewees, sodat hulle omtrent altyd sigbaar was, en as ʼn teken van hoop kon dien. Die poorte van die stede mag nooit gesluit geword het nie, en die paaie na hulle toe moes reguit gemaak word.  

Dis presies hoe Jesus homself vir ons verklaar. Hy is altyd daar, Hy is Emmanuel God met ons. Hy is altyd beskikbaar, altyd binne bereik in nood. Hy is altyd naby, die wat na Hom toe kom word nooit weggewys nie. 

Hierdie paaie was baie spesifiek ingerig om die een wat vlug se tog te vergemaklik. Al die klippe is uit die pad gerol, al die riviere het brûe oor hulle gehad, op elke draai het daar ʼn bordjie gestaan wat gewys het “Vrystad”. 

Johannes kom in die wêreld en kondig aan. Markus 1:1-3 Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak— die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit! 

Die name van die stede is dan ook belangrik. Dit bevat die boodskap van die evangelie in dit.  

  • Golan beteken ballingskap, dis die gedagte van om deur uitwerping te verneder. Adam is uitgewerp uit die tuin, wat ʼn vorm van ballingskap was, Christus word verneder en kom gewilliglik uit die hemel af aarde toe, wat ʼn vorm van ballingskap is. Fil. 2:6-8. 
  • Ramot beteken verhoging. En Christus is verhoog na sy vernedering aan die kruis. En Fil. 2:9-11 vertel dit dan ook so.  
  • Beser beteken Vesting, en dis presies wat Jesus geword het vir almal wat na Hom toe hardloop.  
  • Kedes beteken heiligdom, en dis waar Jesus ingegaan het volgens Hebreërs om eenmaal DIE offer te bring vir ons sondes. 
  • Sigem beteken skouer en was geleë tussen die twee berge waarop die seëninge en vervloeking afgelees was. En dis Jesus wat hierdie seën aan ons gee deur geloof, omdat Hy die vloek op sy skouers geneem het na die kruis.  
  • Hebron beteken stoel van vereenselwiging. En Jesus is die Wen wat ons weer in gemeenskap met die Vader vereenselwig.  

So die stede se name en ligging vertel die boodskap van die evangelie soos volg: 

Jesus verneder homself en word deur God verhoog, Hy word ʼn vesting vir almal wat by Hom skuil, want Hy het eenmaal in die heiligdom ingegaan en op sy skouers ons sonde op die altaar neergesit en daarvoor betaal en Hy het gaan sit aan die regterhand van die Vader op die stoel van vereenselwiging. 

Nou , kom ons kyk na punt 3 

3. Wat beteken dit vir ons? 

Ek dink daar is baie diepte in hierdie teks vir ons in die N.T. 

Kom ons begin deur eerste reg na onsself te kyk. Anders gaan ons sukkel om die boodskap te verstaan. 

Volgens die Woord is ons almal, voor die Here ons gered het, skuldig gewees aan die oortreding van God se wet. 

Romeine 3 kla ons aan van moord, en in beginsel van oortreding van elke gebod, want as jy een gebod oortree het, het jy almal oortree se Jakobus 2:10-11. 

Ons is m.a.w. bloedvergieters en moet vlug vir die bloed wreker wat ons lewe regverdiglik mag neem.  

Ons almal wat na Jesus toe gevlug het in geloof het dit gedoen omdat ons gesien het dat ons skuldig is. En in Jesus ons vrystad het ons skuiling gevind.  

Nou, hierdie is ʼn belangrike vraag: Wie moes die onskuldige bloedvergieter beskerm? 

Die Leviete. Daar is ironie in die antwoord.  

Onthou in Gen. 49:5-7 (lees) 

Hierdie is die verhaal van Dina hulle suster wat hulle gewreek het op ʼn wyse wat nie reg was nie.  

Hierdie sondaars en bloedvergieters (die Leviete) word nou die wat in die vrystede anders bloedvergieters moes beskerm en moes help. 

Hulle is die wat die paaie na die stede moes regkry, gelyk maak en op standaard hou. Hulle moes die aanwysings plaas en die klippe uit die weg rol.  

Ons was ook skuldig gewees aan bloedvergieting en is vrygespreek deur geloof in Jesus Christus.  

Maar ons word in Petrus se brief God se heilige priesterdom genoem. Dit beteken ons het dieselfde verantwoordelikheid as wat hierdie Leviete gehad het.  

Ons moet ook nou nadat ons skuiling gevind het in die Vrystad Jesus Christus help om klippe uit die pad te rol vir ander wat vlug na die vrystad. Ons moet aanwysings wees vir verlore bloedvergieters na die Vrystad Jesus Christus.  

Daar is ook ʼn waarskuwing wat ons moet raaksien.  

Ons is net veilig solank as wat ons in die Vrystad bly. Num. 35:26-28 maak dit baie duidelik. 

Dit sal baie dwaas gewees het om buite die grense van die vrystad te gaan, want in die vrystad het jy alles gehad wat nodig was vir oorlewing.  

Die wat m.a.w. weet om te vlug en nie vlug nie, en die wat gevlug het en nie bly nie is dwaas. 

  • As jy weet jy is skuldig voor God en jy vlug nie na Jesus Christus toe nie, en as jy weet jy is skuldig voor God en jy bly nie in Jesus nie is jy dwaas en gaan jy jou lewe verloor. 

Daar is so verhaal in die Bybel opgeteken: Na die dood van koning Saul, is Dawid as Koning gesalf maar die huis van Dawid en die huis van Saul het voortgegaan om te veg. Dawid se generaal was Joab en Saul s’n was ‘n man met die naam van Abner. Joab se broer Asahel het Abner agterna gejaag en wou nie uitdraai nie, alhoewel Abner hom verskeie kere gewaarsku het. Op die ou end het Abner, uit selfverdediging, Asahel doodgemaak. Joab wil natuurlik wraak neem. En so lees ons: 2 Sam. 3:27. 

In 2 Sam 3:33 lees ons dan dat Dawid Abner se dood die dood van ʼn dwaas noem. Hoekom? 

  • Want Abner was in Hebron, ʼn vrystad en moes nie uitgekom het nie. 
  • Abner het geweet waar die plek van veiligheid was, maar het nie daar gebly nie. Hy het uitgekom. Daarom het hy as ʼn dwaas gesterf.  

Jy sal ook as ʼn dwaas sterf as jy sien dat jy na Jesus Christus toe moet vlug vir veiligheid en dit nie doen nie. 

Die bloed wreker is aan die kom. Die oordeelsdag is naby.  

  • As jy nie na Jesus toe vlug vir vergifnis nie sal jy self vir jou sondes betaal en sterf soos ʼn dwaas. 
  • As jy na Jesus toe vlug geld die bemoedigende woorde van Hebreërs 6:17-20 vir jou. 

Hulle wat ontvlug het deur te vlug na Jesus sal veilig wees. Hy is die onsterflike ewige Hoëpriester onder wie hulle veilig is. 

Psalm 18:3; Spreuke 18 (lees) 

About The Author

Ander Boodskappe...