Ps 42
1 Vir die musiekleier. ‘n Onderwysing van die kinders van Korag. [42:2] Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! 2 [42:3] My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn? 3 [42:4] My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God? 4 [42:5] Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof—’n feesvierende menigte! 5 [42:6] Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof—die verlossing van sy aangesig! 6 [42:7] o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan en die Hermons, van die klein gebergte af. 7 [42:8] Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan. 8 [42:9] Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, ‘n gebed tot die God van my lewe. 9 [42:10] Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking? 10 [42:11] Met ‘n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God? 11 [42:12] Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof—die verlossing van my aangesig en my God!
Ps 43
1 Doen aan my reg, o God, en verdedig my regsaak teen ‘n onbarmhartige volk; red my van die man van bedrog en onreg! 2 Want U is die God van my toevlug; waarom verstoot U my dan? Waarom moet ek rondgaan in rougewaad deur die vyand se verdrukking? 3 Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge, 4 dat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God van my jubelende blydskap en U kan loof met die siter, o God, my God! 5 Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof—die verlossing van my aangesig en my God!

